Gaan na inhoud

Ntshingwayo

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Ntshingwayo Khoza
Ntshingwayo

Een van slegs twee foto's van Ntshingwayo kaMahole wat bekend is. Dit is by sy kraal geneem tydens die Eerste Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879.

Geboortedatum 1809, Zoeloeland
Sterfdatum 21 Julie 1883 (72–73 jaar oud)
Sterfplek oNdini, Zoeloeland
Lojaliteit Zoeloe-koninkryk
Eenheid Bevelvoerende generaal (inDuna) van koning Cetshwayo se Zoeloe-leër tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog.
Veldslae/oorloë Anglo-Zoeloe-oorlog

Ntshingwayo kaMahole van die Khoza (c. 1809 – 21 Julie 1883) was die bevelvoerende generaal (inDuna) van koning Cetshwayo se Zoeloe-leër tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog.

Anglo-Zoeloe-oorlog

[wysig | wysig bron]

Ntshingwayo is aangestel in algehele bevel oor die Zoeloe-impi (leër) wat die sentrale kolom van die eerste Britse ekspedisiemag – wat Zoeloeland tydens die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 binnegeval het – moes konfronteer. Hy het teenstrydige bevele ontvang. In die openbaar is hy aangesê om die Britse ekspedisiemag se sentrale kolom in 'n oop veldslag te ontmoet en "op te vreet" [hulle dood te maak], maar privaat het Cetshwayo hom beveel om "nie dadelik na die Engelse te gaan [om aan te val] nie, maar eers te beraadslaag en 'n paar hoofmanne na die Engelse te stuur om te vra waarom hulle die land verwoes en Zoeloes doodmaak".[1][2] Ten spyte hiervan het Ntshingwayo daarin geslaag om lt.gen. lord Chelmsford op die slagveld te uitoorlê. Chelmsford het die Britse ekspedisiemag verdeel en 'n groot deel van sy troepe op patrollies uitgestuur vanaf die hoofkamp by Isandlwana in 'n poging om die Zoeloe-leër op te spoor; sodoende is die kamp swak verdedig en sonder versterkings agtergelaat. Ntshingwayo se amabutho [[[isiZulu]]: "regimente"; enkelvoud: ibutho] het die Britse mag in die kamp aangeval en feitlik vernietig tydens die Slag van Isandlwana op 22 Januarie 1879. Met 'n dodetal van ongeveer 1 300 Britse troepe, Europese vrywilligers, swart soldate en kampvolgelinge, was hierdie veldslag een van die ernstigste nederlae wat die Britse leër tydens die Victoriaanse tydperk gely het.

Ten spyte van die oorweldigende oorwinning en Ntshingwayo se bekwame bevelvoering tydens die slag, was die koning uiters ontevrede oor die groot aantal Zoeloe-verliese by Isandlwana. Dit sal nooit bekend wees hoeveel verliese die Zoeloes gely het nie, maar etlike honderde is gedood en baie meer gewond. Moderne historici meen dat 'n totale syfer van ongeveer 1 000 Zoeloe-verliese nie onredelik is nie.[2] Twee van Ntshingwayo se eie seuns, wat aan die slag deelgeneem het, is ernstig gewond. Sishishili kaMnqandi – 'n koninklike gunsteling en 'n induna (offisier) van die uKhandempemvu-ibutho (regiment) vir wie die koning gevra het om verslag oor die slag te doen – het die skuld vir die Zoeloe-leër se gebrekkige voorbereiding en die gevolglike hoë dodetal vierkantig voor Ntshingwayo se deur gelê. Gevolglik het Ntshingwayo baie van die openbare lof verbeur waarop hy vir sy groot oorwinning geregtig was; tog kan daar aangevoer word dat die skuld vir die uitkoms by koning Cetshwayo lê, aangesien hy teenstrydige bevele aan Ntshingwayo gegee het om nie die Britse mag aan te val voordat toekomstige onderhandelinge misluk het nie. In die praktyk was die Zoeloes se verrassingsaanval egter so doeltreffend dat hulle min keuse gehad het behalwe om die Britte aan te val waar hulle hulle ook al op die slagveld aangetref het.[2]

Naoorlogse tydperk

[wysig | wysig bron]
Image
Hierdie is 'n foto van 'n poskaart wat omstreeks die tyd van die Anglo-Zoeloe-oorlog van 1879 uitgegee is. Dit is een van slegs twee bekende en geverifieerde afbeeldinge van die Zoeloe-induna (generaal) Ntshingwayo kaMahole, wat die Zoeloe-impi's by Isandlwana aangevoer het. Die fotograaf en die uitgewer is onbekend. Die oorspronklike poskaart maak deel uit van die versameling van die National Army Museum in die Verenigde Koninkryk.

Ná koning Cetshwayo se terugkeer na Zoeloeland uit gevangenskap in Kaapstad en Engeland, het baie van sy lojale ondersteuners byeengekom om hom te verwelkom, insluitend Ntshingwayo kaMahole. Die koning se terugkeer het verdeeldheid gesaai en gelei tot polarisasie tussen die koningsgesinde (uSuthu-) en anti-koningsgesinde faksies. Baie van sy volgelinge het 'n aanval geloods op prins Zibhebhu kaMaphitha – van die Mandlakazi-tak van die Zoeloe-koningshuis – wat Cetshwayo se volgelinge tydens die koning se afwesigheid verdruk het. Zibhebhu was 'n *iqawe* [isiZulu: "bekende kryger", "held"] en 'n veteraan van Isandlwana; hy het die Zoeloe-reserwemag gelei wat verantwoordelik was vir baie van die Britse ongevalle in daardie veldslag, en hy het geblyk die mees prominente Zoeloe-generaal sedert Shaka te wees. Hy het die aanvallende uSuthu-magte in 'n lokval gelei en hulle tydens 'n hinderlaag in die Msebe-vallei verslaan.[3] Uit vrees vir sy veiligheid het die koning sy ou amabutho – veterane van Isandlwana – opgeroep. Onder hulle was Ntshingwayo. Dit was 'n flagrante oortreding van die Britse wette wat ná die oorlog in Zoeloeland afgedwing is en wat die byeenbring van enige Zoeloe-magte streng verbied het.[2]

Op 21 Julie 1883 het Zibhebhu 'n verrassingsaanval geloods op koning Cetshwayo se koninklike nedersetting by oNdini (naby die huidige Ulundi), wat destyds opgeknap is. Ervare amabutho van Isandlwana het Zibhebhu in 'n oop veldslag die stryd aangesê, maar is vernietigend verslaan. Honderde is in die nedersetting vasgekeer en doodgemaak, insluitend Ntshingwayo se broers Hayiyana en Makhoba. Tydens die voorval is die koning self deur 'n spies gewond; hy het van die toneel van die bloedige staatsgreep gevlug. Ntshingwayo was een van die koning se vele senior indunas wat agternagesit en doodgemaak is terwyl hulle probeer vlug het.[2] – saam met Ntshingwayo se kinderjare-vriend, Godide Ndlela. oNdini is met die grond gelyk gemaak.

Die groot ironie is dat die triomfantlike generaal van Isandlwana self deur 'n mede-veteraan van daardie veldslag gedood is.[2] Vandag word Ntshingwayo se rol in die Slag van Isandlwana in die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing beklemtoon.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ Cetshwayo se eie woorde, soos opgeteken in geskiedkundige verslae uit daardie tyd. Hy was teen die oorlog gekant en het die uitlokkings van die diplomaat sir Henry Bartle Frere geïgnoreer; aangesien die Britse Ryk en die Koninkryk van Zoeloeland bondgenote was, wou Cetshwayo dit duidelik aan Brittanje stel dat hy nie oorlog wou hê nie en gereed was om so gou moontlik 'n vredesverdrag te onderteken.
  2. 1 2 3 4 5 6 Knight, Ian Zulu Rising: The Epic Story of Isandlwana and Rorke's Drift
  3. ↑ Laband, John (2009). "Msebe, Battle of (1883)".. Lanham, Maryland: Scarecrow Press. 170–171. ISBN 978-0-8108-6078-0. 

Verdere leeswerk

[wysig | wysig bron]
  • Ron Lock en Peter Quantrill. Zulu Victory – The Epic of Isandlwana and the Cover-Up; ISBN 1-85367-645-4
  • Ian Knight. Zulu Rising: The Epic Story of Isandlwana and Rorke's Drift; Londen, 2010. ISBN 0-330-44593-6.